Is Omega’s die begin en einde?

’n Mens kan amper nie ’n koerant of ’n tydskrif oopmaak sonder om ’n advertensie te sien vir aanvullers wat jy kan koop wat as noodsaaklik voorgehou word vir konsentrasie en om kinders se breinontwikkeling te ondersteun nie. Wanneer ek praatjies hou kry ek byna altyd vrae hieroor en ek vind dat ouers werklik besorg is oor die rol wat ’n kind se dieet speel by optimale breinontwikkeling. Inligting oor hierdie aanvullers kan ook oorweldigend vir ouers wees.

       My antwoord hierop is gewoonlik baie eenvoudig! Alle gerespekteerde navorsing in hierdie veld bly daarop dui dat ’n gesonde, gebalanseerde dieet wat goed is om jou lyf te laat groei aan al die behoeftes voldoen wat ’n gesonde brein nodig het om optimaal te funksioeer. Dus ’n gesonde gebalanseerde dieet vir die liggaam is ook een vir die brein.

       Aanvullers moet met groot oordeelkundigheid vir kinders gegee word. Ek voel dat as die dieet genoegsaam is en waar bestanddele genoeg voedingswaarde bevat en die kos so voorberei word dat die voedingswaarde behoue bly, jy nie regtig enige ekstra aanvullers vir breinontwikkeling vir jou kind hoef te gee nie. Dis meer belangrik om kos te koop van verskaffers en handelsmerke wat bekend is daarvoor dat hulle nie grond oorverbou nie sodat die produkte wel die nodige voedingswaarde sal bevat – dit is amper vir my belangriker as om oor die regte aanvullers vir my kind te besin.

    Wat wel vir my kommerwekkend is, is wanneer tieners op kitsdiete gaan en dus ’n fase van ondervoeding ingaan tydens die ontwikkeling van die prefontale korteks. Dan kry die brein nie genoeg vette in om hierdie belangrike fase van snoei te ondersteun nie en kan dit ’n negatiewe impak op hulle ontwikkeling hê. Hou dus dop wat jou tiener eet en maak seker sy volg ’n gebalanseerde eetprogram.

Vetsure

Daar is wel ’n klompie baie belangrike vetsure waarsonder jou kind nie na behore kan funksioneer nie en wat belangrik is vir breinontwikkeling, soos omega 3- en omega 6-vetsure. Jou liggaam kan dié vette nie self vervaardig nie, daarom moet jou kind dit deur of haar kos en/of aanvullings inkry. Toe ek begin skool hou het, het ons departementshoof altyd gesê, ‘n kind is wat hy of sy eet! En dit is helaas nogals waar wat breinontwikkeling betref. Daarom is ‘n gebalanseerde dieet so ‘n belangrike aspek van ‘n gesonde omgewing waarin breine kan floreer.

    ’n Derde van jou brein bestaan uit omega 3’s. Behalwe dat ’n mens se brein nie goed daarsonder werk nie, tas ’n tekort jou geheue aan, jou hormone raak deurmekaar, jou vel droog uit en daar word onnodig baie spanning op jou hart en are geplaas. Kenners is van mening dat omega 3- en omega 6-vetsure help kinders ook om fisiek gesond te bly. Omega 3-vetsure is veral nodig vir vroeë ontwikkeling van die brein en retina van die oog.

   Van al die weefsels in die liggaam bevat die brein die grootste hoeveelheid omega 6-vetsure. Die gewildste omega-6-vetsuur heet gamma-linoleensuur (GLS). Ons liggaam maak dit deur linoleïensuur in gamma-linoleensuur om te skakel. Dit kom ook voor in onder meer moedersmelk en aandblomolie.

    Dit wil voorkom asof GLS met sekere leerprobleme kan help.

Jou koskas is dalk alreeds vol gesonde “breinkosse”!

‘n Goeie voedselbron van omega 3-vetsure is olierige vis soos sardientjies, salm, makriel en haring, asook okkerneute en raapsaadolie (canola-olie). Tuna bevat ook omega 3’s, maar dit moet eerder vars geëet word as geblik. Een van die beste bronne van omega 3 is lynsaadolie. Hennep-olie en pampoenpitte is ook ryk bronne.

    Probeer sowat 3 keer ’n week vir jou kind vis gee om sy omega 3-vlak gesond te hou. Omega 3-verrykte eiers is ook ’n goeie bron.

    As jy die natuurlike roete wil volg met sade en vis, kan jy gelyke dele sesam-, sonneblom- en pampoensade by drie gelyke dele lynsaad voeg in ’n lugdigte houer. Hou dit in die yskas, weg van lig, hitte en suurstof. Maak dié sade almal saam fyn en strooi ’n opgehoopte eetlepel elke oggend oor jou kind se ontbyt.

    Daarby kan jy drie maal ’n week vir hom 100 g olierige vis gee (dit is min of meer die grootte van ’n blikkie sardientjies of ’n makrielfilet).

    Saadolies soos vloeibare lynsaadolie is vrylik te kry by groot apteke en gesondheidswinkels en kan oor slaaie en ander koue of warm kosse gevoeg word. (Moet dit egter nie verhit nie, dan verdwyn die gesondheidseienskappe.) Koop ’n olie wat gelyke hoeveelhede omega 3- en omega 6-vette bevat, koudgepars is, verkieslik organies is en verkoel is voor jy dit koop. ’n Goeie voedselbron van die omega 6-vetsure is groenteolies, veral mielie-, saffloer-, sonneblom-, sesam-, okkerneut- en soja-olies.

Wanneer is aanvullings dan nodig?

Wanneer is ’n aanvulling dan nodig? As jou kind nie drie keer ’n week olierige vis eet nie en ook nie daagliks ’n porsie van die bogenoemde sade inkry nie, behoort jy vir hom ’n aanvulling van essensiële vetsure te gee. Daar is hope produkte op die mark beskikbaar, maar kyk uit vir iets wat GLA (omega 6), DHA en EPA (wat die belangrikste omega 3-vette is) bevat.

    Die belangrikste vetsuur vir ontwikkeling is omega 3-vette en daar is verskeie vorme spesiaal vir  kinders beskikbaar, van pastas en drankies tot klein kapsules. Lees op die etiket wat die regte hoeveelheid vir jou kind se ouderdom is. Seuns het gewoonlik meer omega 3-olies as meisies nodig.

© Johan van Lill 2013