’n Mens lees met jou brein en nie jou oë nie! Dit was vir my as onderwysstudent seker die belangrikste ontdekking ooit. Prakties beteken dit dat die oë net ’n sintuig is wat inligting na die brein bring, maar die brein gee betekenis aan alles. Lees begin en eindig by verstaan, begrip en betekenis skep.
Die brein is so wonderlik dat dit selfs kan voorspel wat die betekenis van ’n teks gaan wees voordat jy dit begin lees het! Dink maar net aan die hoofopskrif van ’n koerant op lamppale in die oggend. Hierdie voorspellingsvaardigheid kan ’n kragtige begripsleesinstrument word, maar dan moet jy dit reg gebruik. Daarom is dit belangrik om die werking van die brein te verstaan, maar veral wanneer die brein “lees” en “skryf”.
Wanneer ek praatjies oor breinontwikkeling gee en wat ouers kan doen om hulle kinders se breine optimaal te ontwikkel, bly die terugvoer dat ouers nog nooit eintlik voor so ’n praatjie oor hulle kinders se breine gedink het nie. Dis dalk omdat die orgaan weggesteek is of dalk net omdat daar ’n persepsie is dat die werking daarvan moeilik is om te verstaan.
Breinskanderingstegnieke het dit vir ons moontlik gemaak om die werking van die brein en breinselle in aksie te bestudeer – dis ’n veld wat as neurowetenskap bekend staan – en ’n wesenlike bydrae begin maak oor hoe ons leer en kinderontwikkeling verstaan en kan aanhelp.
Neurowetenskap het baie aspekte en teorieë rondom lees en dus leer uitgeklaar, verwerp of bevestig, aangesien ons met moderne tegnologie die eerste keer kon sien hóé die brein tydens hierdie aktiwiteite funksioneer en watter dele van die brein aktief is wanneer hierdie aktiwiteite of prosesse plaasvind.
Sommige universiteite het deesdae opvoedkundige neurowetenskaplike departemente om die bydrae wat neurowetenskap tot onderwys en kinderontwikkeling kan maak, te ondersoek en verdere navorsing te doen. Universiteite lei ook onderwysers op om basiese neurowetenskaplike beginsels te verstaan – iets wat ’n positiewe invloed het op wat onderwysers in die klaskamer moet doen.
Baie van hierdie beginsels en praktyke is ook van toepassing op ouers en kan by die huis geïmplementeer word om kinders vir formele leer en lees gereed te kry.
Ons sal in toekomstige aflewerings verder hierna kan kyk.