Die jongste tyd het heelwat publikasies verskyn wat intelligensie op verskillende maniere definieer en benadruk dat mense op verskillende maniere intelligent kan wees.
Howard Gardner, 'n professor in sielkunde aan die Harvard-universiteit in die VSA, het in 1983 met die teorie van veelvoudige intelligensie vorendag gekom. Hy sê in sy boek Frames of Mind: The Theory of Multiple Intelligences elke mens is intelligent – ons is net almal op verskillende maniere intelligent. En met intelligensie bedoel hy die aanleg wat iemand het om iets ingewikkelds met gemak op ‘’n spesifieke gebied te kan hanteer of bemeester.
’n Sokkerspeler vaar byvoorbeeld beter in ’n komplekse sportoefening as wat ’n rekenaarekspert dit sal doen wat byna nooit aan sport deelneem nie. Die rekenaarekspert kan dalk weer makliker ’n wiskundeprobleem baasraak as wat hy iemand anders se persoonlike probleme kan oplos. ’n Sielkundige kan gou agter die kap van die byl kom as dit by persoonlike sake en probleme kom, maar hy sal waarskynlik nooit musikale uitdagings só kan bemeester dat hy die voorsanger van ’n rockgroep kan word nie. Elkeen van hierdie voorbeelde dui op die aanleg vir iets ingewikkelds wat vir ’n persoon wat oor daardie spesifieke intelligensie (aanleg) beskik, natuurlik en makliker kom as ander mense wat sterker op ’n ander intelligensiegebied is.
Hoekom moet ouers en versorgers dit weet?
Dis vir ouers belangrik om te verstaan dat hulle kinders op verskillende maniere intelligent is en juis daarom op verskillende gebiede uitblink. Dit wat op skool getoets word, is nie altyd dit waarin jou kind sterk is nie! Intelligensie is baie meer as net akademiese prestasie op skool. Intelligensie sluit die vermoë in om ingewikkelde idees te verstaan, om by die omgewing aan te pas, om uit ervarings te leer en om struikelblokke te oorkom. ’n Mens lees selde van kenners wat intelligensie beskryf as die vermoë om agt onderskeidings in matriek te behaal of ses grade te verwerf.
Volgens Gardner se teorie is daar verskillende tipes intelligensie en elke mens beskik oor minstens een hiervan. Sommige mense is gelukkiger en is op meer as een vlak intelligent.
Taalkundig-intelligente individue kan joernaliste, skrywers en digters word. Wiskunde-onderwysers, ingenieurs en rekenmeesters is logies-wiskundig intelligent, terwyl die sangers Chris Chameleon, Eminem en Elton John musikaal-intelligent is. Argitekte, sommige kunstenaars en binnenshuise ontwerpers beskik oor visueel-ruimtelike intelligensie.
Dié wat presteer op die sportveld of op die verhoog is liggaamlik-kinesteties intelligent. Geen balletdanser, mimiekkunstenaar, gimnas of “rapper” of “raver” hoef dus terug te staan vir 'n ekonoom of ingenieur wat intelligensie betref nie.
Die TV-persoonlikheid Oprah Winfrey, die radio-omroeper Jeremy Mansfield en oudpres. Nelson Mandela is al drie, afgesien van hul taalkundige intelligensie, ook interpersoonlik intelligent – hulle kweek goeie verhoudinge met ander. Interpersoonlike intelligentes word ook goeie verkoopmense. Diegene wat hulself goed verstaan, is weer intrapersoonlik intelligent.
Onlangs het Gardner selfs nog ’n intelligensie bygevoeg. Charles Darwin, die "dom" student wat die evolusieteorie die lig laat sien het, was naturalisties intelligent. Sulke mense kan onderskei tussen verskillende plante en diere en vaar dus goed in biologie en wetenskap.
Gardner voer aan ’n mens kan oor meer as een van dié intelligensies beskik. Volgens hom word ons intelligensie in groot mate bepaal deur die stimulasie wat ons van ons omgewing ontvang vanaf ’n jong ouderdom. Die stimulasie het ’n direkte impak op die verbindings tussen breinselle. Die verskillende intelligensies soos deur Gardner beskryf, is te danke aan die verbindings tussen breinselle wat oor jare se blootstelling gevorm word. Dit sluit ook aan by die feit dat die brein ’n plastiese orgaan vir leer is wat neurowetenskaplikes oor en oor al bevestig het deur betroubare navorsing.
Kinders wat byvoorbeeld aangemoedig word om hulle sakgeld te bestuur, se logies-wiskundige intelligensie word gestimuleer. Dié wie se ouers geld uithaal vir tennislesse, dansklasse en karate, stimuleer hul kinders se liggaamlik-kinestetiese intelligensie. Dit beklemtoon ook die feit dat jou kind se omgewing ’n direkte impak het op die bereiking van haar potensiaal. Die meeste kenners stem deesdae saam dat ’n kind se omgewing ’n groot rol in intelligensie speel.
Wie is die slimste ... mans of vrouens?
Deesdae word daar baie gepraat oor of seuns en dogters se breine verskil en of hulle intelligensietipes (soos deur Gardner hierbo gedefinieer en gesien) verskil.
Die sielkundige en skrywer Robert A. Baron meen daar is geen intelligensieverskille tussen geslagte nie. Mans se intelligensievlakke lê wel op die twee verskillende pole in die brein, terwyl vroue se vlakke rondom die middel van die neurokorteks gesentreer is. Volgens Baron (en ek stem heelhartig met hom saam) het dit geen impak op mense se prestasie of intelligensie dat mans- en vrouebreine verskil wat betref waar sekere goed in die brein gebeur nie.
Daar is ander faktore wat belangriker is rondom intelligensie. Daar is ook heelwat meer modelle wat intelligensie probeer verklaar as net Gardner, maar vir my persoonlik maak dit genoeg voorsiening vir die feit dat kinders verskil en verskillende aanlegte het wat elkeen ’n unieke mens maak.
Maar Gardner is nie die alfa en omega nie ...
Ek dink dit is tog belangrik om ook na Robert J Sternberg, ‘n ander prominente figuur in die veld van intelligensie, se teorieë rondom intelligensie op hierdie punt te kyk aangesien dit ’n dimensie by Gardner se teorie voeg wat ek dink nodig is om ook in ag te neem wanneer mens oor kinders se intelligensie dink. Sternberg onderskei tussen drie basiese vorms van intelligensie. Analitiese mense is goeie studente, terwyl kreatiewe intelligensie verwys na dié individue wat nuwe idees kan formuleer – soos Einstein, Newton en selfs Freud. Mense wat “straatwys” is, is prakties intelligent. Sulke mense kan alledaagse probleme oplos.
Wat sê jou IK dan van jou?
Persoonlik dink ek nie dat jou intelligensiekwosiënt jou prestasie bepaal nie. ’n Mens sien baie keer dat iemand wat nie akademies presteer het nie, nog steeds ’n sukses in die lewe gemaak het. En as ’n mens mooi gaan kyk na hulle profiele kom jy agter dat hulle oor ander intelligensies beskik wat nie in ’n IK-syfer aangedui kan word nie.
Vir diegene wat meer oor Gardner en veelvuldige intelligensies wil weet
Gardner se veelvuldige intelligensiemodel het die tradisionele idee van intelligensie wat gebaseer is op ’n IK-toets binne perspektief geplaas.
Volgens Gardner fokus skole te veel op taalkundige en logies-wiskundige intelligensie en te min op die ander. Daar moet gelyke erkenning gegee word aan mense wat op ander gebiede as hierdie twee intelligent is. Dink maar aan kunstenaars, ontwerpers, musikante, natuurkundiges, ontwerpers, dansers, terapeute, entrepreneurs, en ander wat die wêreld waarin ons leef, verryk.
Om jou kind se intelligensie en moontlike kombinasie van dit waarin sy goed is te verstaan, kan baie help om te verstaan hoe hulle verkies om hulle inligting te ontvang en te verwerk en wat en hoe hulle graag wil lees. ’n Musikale kind wat musiekslim is gaan eerder verkies om ’n liedjie te skryf om te demonstreer dat sy iets verstaan as wat sy ’n lang opstel daaroor gaan wil skryf. Deesdae word onderwysers opgelei om in hulle klaskamers voorsiening te maak vir verskillende maniere van leer en intelligensies.