Johan van Lill is ’n veelsydige, goed gekwalifiseerde en ervare opvoedkundige en entrepreneur.

As skrywer het hy verskeie opvoedkundige reekse en ander kurrikulum-materiaal vir sowel laer- as hoërskole ontwikkel. Dit sluit boeke vir leerders en vir onderwysers in, asook leesreekse met materiaal vir al die skoolvakke.
Sy artikels oor die ontwikkeling van kinders se wiskunde- en wetenskapvaardighede verskyn gereeld in tydskrifte en koerante. Johan is ook ’n gereelde gas op opvoedkundige radio- en TV-programme.
Johan se jongste boek, Jou kind kan wiskunde doen, verkoop uitstekend. Dis op ouers, onderwysers en versorgers gerig om kinders met wiskunde by te staan.
Afgesien van klaskamermateriaal is hy ook ’n bekende skrywer van kinderboeke.

Johan se wye onderwyservaring stel hom in staat om op te tree as die opvoedkundige konsultant en projekbestuurder van HIP2B², ’n maatskappy wat entoesiasme vir wiskunde, wetenskap en tegnologie by skoolleerders stimuleer. HIP2B² spits hom daarop toe om probleemoplossing deur laterale en analitiese denke en daardeur ook entrepreneurskap te bevorder.

“think. what you can be” is die kernboodskap waardeur HIP2B² leerders ook uitdaag om na te dink oor die waarde van wiskunde, wetenskap en tegnologie as skoolvakke en as toekomstige studie- en loopbaanrigtings. Sodoende wakker HIP2B² ook die strategiese denke aan wat nodig is om ons arbeidsmag te ontwikkel en Suid-Afrika ekonomies te laat bloei.
Die opwindende jaarlikse HIP2B² iThink-kompetisie vir skole is deur Johan geïnisieer – dit is vandag deel van die Nasionale Wetenskapweek in samewerking met Suid-Afrikaanse Agentskap vir Wetenskaplike en Tegnologiese Vooruitgang (SAASTA) en die Departement van Wetenskap en Tegnologie. Binnekort loop nog ’n inisiatief van Johan, die HIP2B² Innovation Challenge, in samewerking met 3M in skole van stapel.

Ouers en onderwysers klop by Johan se opleidingsessies aan om uit sy jare lange ervaring in en navorsing oor breinontwikkeling te put. Dit help hulle onder meer om kinders vir skool en formele onderrig gereed te maak.
Buite die land se grense het Johan in 2003 as gasspreker by die World Congress on Media Literacy in Baltimore in die VSA opgetree. Sy lesing het oor die metodes wat vir die ontwikkeling van media-, inligting- en letterkundige vaardighede gebruik kan word gehandel. Hy was ook betrokke by die bekendstelling van die Centre for Neuroscience in Education aan die Cambridge-universiteit in die Verenigde Koninkryk waar navorsing oor die verbande tussen breinontwikkeling en kognitiewe vaardighede in onderwys gedoen word.
As entrepreneur is Johan van Lill direkteur van Wordwise Media, ’n onafhanklike maatskappy wat wydvertakte media- en onderwysdienste lewer. Benewens die saamstel van opvoedkundige materiaal en bied van onderwyskonsultasie, vervaardig Wordwise radioprogramme en gee die DVD-reekse Barney, Thomas en Noddie in Afrikaans uit. Johan is ook mede-eienaar van Van Lill & Jovner Consulting (www.vjc.co.za), wat opvoedkundige konsultasiewerk doen vir 'n verskeidenheid maatskappye.

Johan se stem is bekend as aanbieder en onderhoudvoerder op radioprogramme soos RSG Kuns, RSG Matriekhersiening, RSG Groeipyne, RSG Ons en die Onderwys en Kaapse Dagboek/Cape Diary op die Kaapse Fine Music Radio. Sondagoggende bied hy saam met Lizelle de Bruin RSG Sondagjoernaal aan. Hy is in 2013 en 2014 benoem vir ATKV Media-veertjies. In 2015 wen hy 'n ATKV Media-veertjie vir die beste insetsel op 'n joernaalprogram (RSG Kuns: Kaapse Ballet 80 jaar) en in 2016 vir beste dokumentêre program (Onderwerp: Christopher Kindo - Voete soos Vlerke) asook vir Ons en die Onderwys (Onderwerp: Robotte in die klaskamer) as beste opvoedkundige program. Hy ontvang ook 'n "Silver Award in the Broadcast Category of the National Arts Festival/Business and Arts South Africa Arts Journalism Awards 2016".
Hy is ’n passievolle kunsversamelaar en kenner van veral jonger Suid-Afrikaanse skilders.

Johan van Lill is vanaf 2013 ook lid van die Fleur du Cap Teaterpryse-paneel wat jaarliks uitnemendheid in die teaterbedryf bekroon. Vanaf 2014 is hy ook 'n lid van die Fiesta-paneel wat debuutproduksies op Nasionale Kunstefeeste bekroon.
Lees hier 'n onderhoud met my: Die Burger -
Oop Kaarte: ’n Oomblik in hul hart deur Murray la Vita
Kontakbesonderhede:
(021) 976 3366